Sondag 26 Julie 2020

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
EREDIENS – YOUTUBE
SONDAG 26 JULIE 2020
SKRIF: JES 49:14-16; MAL 3:6; 1 KOR 1:9
TEMA: VERGEET? WEGGOOI? NIE GOD NIE!
Ds Smuts van Rensburg

Votum
Ps 42:1,7 (Totius beryming uit Psalm-Gesangboek)

Seëngroet
Ek groet julle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Genade en vrede vir dié wat dors na die Here. Vir dié wat skep uit die fontein van lewende water. Amen

Lofsang
Kom ons loof die Here saam met gelowiges oor baie eeue. Jy kan sommer daar waar jy is uit die hart saam sing – Ps 146 “Prys die Here loof en prys Hom…” En die woorde van v6 “Hy sal altyd trou ons Heer bly. Deur Hom sal daar redding kom…”  Ps 146:1,6

Selfondersoek
Ons as volgelinge van die Here Jesus wil graag leef soos wat Hy van ons vra, soos wat Hy ons leer. Ja, ons weet Hy vra van ons dat ons sy liefde moet uitleef.
Nou die liefde van die Here het verskeie kenmerke. Een daarvan is vriendelikheid.
1 Kor 13:4 sê mos: Die liefde is vriendelik.
En in Gal 5:22 lees ons ook: Die vrug van die Gees is vriendelikheid.
Kom ons word stil: Dink so ‘n bietjie, waar, teenoor wie was jy hierdie week nie baie vriendelik nie. Miskien is dit sommer daar in jou huis. Miskien was dit teenoor ‘n kassier in die winkel, of teenoor ‘n petroljoggie, of… Waar was ek nie vriendelik nie. Erken dit, en bely dit, en vra vir die Here om vergifnis.
Stilte

Weet julle, in hierdie tyd waarin ons leef is dit een van die maniere om as kind van die Here ‘n verskil te maak – deur dood eenvoudig net vriendelik te wees. Mense is gespanne oor al die dinge wat onseker is. Mense is gefrustreerd met al die reëls en regulasies. Mense is kwaad. Mense kry swaar. Deur vriendelik te wees, kan ons ‘n verskil maak.

Wees vriendelik met mekaar – in jou huwelik, in jou gesin, by die werk, in die skool, teenoor mense by die winkel… waar jy ook al gaan. Ja, ek weet ons kruip almal letterlik agter maskers weg. Maar mag jou vriendelikheid van agter jou masker uitkom deur jou oë wat lag en in jou stemtoon. Mag dit ‘n vriendelikheid wees wat uit die hart kom, omdat jy aan die Here behoort.

Gebed
Kom ons bid in die woorde van Lied 334 dat ons sy liefde sal uitleef. Lied 334:1,2 en 4

Aankondiging van Skriflesing
Jes 49:14-16(a)
Mal 3:6
1 Kor 1:9

Die Woord van die Here kom vandag na ons uit Jes 49:14-16(a). Dit sal natuurlik baie goed wees as jy die hele Jes 49 kan lees. Dan gaan ons ook Maleagi 3:6 lees, asook 1 Kor 1:9

Gebed (Epiklese)
Kom ons nader tot die troon van die Here in gebed.
Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my.
Gees van God wat in my woon, kom en heilig my.
Troos my, sterk my, leer my, lei my.
Gees van God kom heilig my – breek die Woord vir my. Amen (Lied 442:1)

Skriflesing
Jes 49:14-16
14. Sion sê: “Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.”
15. Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.
16. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer.

Mal 3:6
6. Ek, die Here, het nie verander nie, daarom het julle nie te gronde gegaan nie, nageslag van Jakob.

1 Kor 1:9
9. God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Preek
Hulpmiddels : Chipspapier, Cokeblik, plastieksak, rekenaar sleutelbord, tinfoelie, strykyster.

Wat maak jy met jou chips-sakkie as jy klaar geëet het? Jy gooi dit weg. En as jy jou laaste slukkie Coke gedrink het? Jy gooi die bottel weg. Die leë koffiefles, ‘n gebruikte plastieksakkie, ‘n gebruikte stuk tinfoelie, jy gooi weg. Wat maak jy met ‘n rekenaar se sleutelbord as sy knoppies begin lol? Of ‘n strykyster as sy element die gees gegee het? Jy gooi dit weg!  Ons het ‘n weggooikultuur. Ons gebruik ‘n ding, en as ons dit klaar gebruik het, gooi ons dit weg. Of as dit lyk of die ding stukkend is, sukkel ons nie daarmee nie. Ons gooi dit weg en kry maar net ‘n ander een.

Nou dit was nie altyd so nie. Vroeër jare het mense nie sommer goed weggegooi nie. As ouma ‘n plastieksakkie klaar gebruik het, het sy dit uitgespoel en opgehang om droog te word. En dan het sy dit weer gebruik. Daar was natuurlik ook nie ‘n ding soos weggooidoeke nie. Babas se doeke is gewas en oor en oor gebruik. Ek het eendag gesien hoe my oom, wat in die depressiejare van die vorige eeu groot geword het, ‘n halwe wasgoedpennetjie optel. En toe ek hom vra wat hy daarmee gaan maak, toe sê hy miskien tel ek môre ‘n ander halwe een op, en dan het ek ‘n heel wasgoedpennetjie. Ek sien nou nog hoe my ma die gebruikte tinfoelie skoon vee en dan so met haar hand uitstryk, sodat sy dit weer kan gebruik.

Julle sien, vroeër het mense nie sommer net weggegooi nie. Mense het opgepas. Hulle het heel gemaak. Hulle het iets nog ‘n kans gegee.

‘n Man en vrou het mekaar ook nie sommer so maklik weggegooi nie. ‘n Ou en ‘n meisie het mekaar ook nie sommer net vir ‘n aand of twee in die bed gebruik en dan weggegooi nie. Daar was vroeër jare so ‘n bietjie meer getrouheid. En lojaliteit. Dis nogal iets wat skaarser geword het as vroeër – lojaliteit en getrouheid. Vroeër was dit so dat as ‘n man ‘n Sap was, was hy ‘n Sap, en as hy ‘n Nat was was hy ‘n Nat. As jy ‘n Ford gery het, was jy tot jou dood ‘n Fordman. En ‘n Chev-man sou sy lewe lank nie in ‘n Ford klim nie. En jy was getroud met Volkskas, tot die dood julle sou skei.
Vandag is dit anders. Ons gooi weg. Ons is nie meer so – kom ons sê, ons is nie meer so goedgelowig getrou en lojaal nie. Miskien is dit goed dat ons geleer het om sekere dinge weg te gooi. Want daar was dinge wat ons vir baie jare vasgeklou het, en wat eintlik niks werd is nie. Maar ons sal tog weer in ons tyd moet dink oor weggooi. En oor lojaliteit.

Dis miskien omdat ons nie meer so getrou en lojaal is nie, dat ons nie meer heeltemal verstaan wat getrouheid en lojaliteit beteken nie. En dis miskien omdat ons nie meer so getrou en lojaal is nie, dat ons so min van God se trou en sy lojaliteit verstaan. Die God wat ek en jy aanbid, die God van die Bybel, is – gelukkig! – heeltemal anders as ons!!! Dankie tog daarvoor!!! Hy gooi nie sommer weg nie. Hoekom nie? Hoekom dink julle gooi God nie sommer weg nie? WANT GOD IS GETROU!!!

Reeds in Gen 28:15 sê die Here vir Jakab wat aan die vlug is : Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het. M.a.w. – Ek is getrou; Ek gaan by my belofte hou; Ek gaan jou nie drop nie. Ek gaan nie my beloftes opfrommel en in die asblik weggooi nie!

In Psalm 103:17 sê die Psalmdigter: Onverganklik is die liefde van die Here … sy trou vir opeenvolgende geslagte. Dis wonderlik om te weet: Die Here sê nie by die doopvont Ek het jou lief, en dan vergeet Hy dit weer môre nie. Of dan besluit Hy môre of as jy bietjie ouer is, dat Hy jou nie meer gaan liefhê nie. Of dat Hy jou gaan weggooi nie. Nee, Hy sê dat Hy getrou gaan wees in sy liefde vir my kinders! Is dit nie wonderlik om dit te weet nie! Hy gooi nie sy liefde vir my en my kinders sommer weg nie. Nee, as ons droogmaak sê Hy eerder (neem tinfoelie en vryf dit plat) Kom ons maak skoon; kom ons stryk dinge weer uit.
Dis presies wat in Jes 1:18 staan Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, al was jy skarlakenrooi van sonde, jy sal wit word soos sneeu. Al was jy purperrooi, jy sal wit word soos wol. M.a.w., Ek gaan jou nie opfrommel en weggooi omdat jy vuil en vol sonde is nie. Ek gaan jou eerder skoonmaak.

Ons het in Jesaja 49 drie verse gelees. Daar waar die Here sê Kan ‘n vrou haar baba vergeet…? En dan sê Hy Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Toe dit sleg gegaan het met die Here se volk, het hulle gedink die Here het ons vergeet. Hulle het gedink: Hy’t ons weggegooi. En nou sê die Here Kan ‘n vrou haar baba vergeet? Kan ‘n vrou haar baba weggooi? Nooit nie! Maar selfs al sou ‘n ma dit kon doen, die Here kan dit nie doen nie. Hy kan sy kinders nie vergeet nie. Hy sal sy kinders nooit weggooi nie. Nooit Nie! Want, sê Hy in vers 16, Ek het jou naam in my handpalms gegraveer.

Dis waarom Hy ook in Jesaja 43 sê Jy is Myne. As jy in jou lewe deur riviere moet gaan, gaan Ek jou nie weggooi nie. As jy deur vuur moet gaan, gaan Ek jou nie weggooi nie.

Ons het in die laaste boek van die Ou Testament, in Maleagi 3 gelees dat die Here sê: Ek verander nie. Ek verander nie van plan nie. Ek is getrou. En dis hoekom julle nog nie te gronde gegaan het nie. Juis daarom kan Paulus in 1 Kor 1:9 skryf: God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Liewe medegelowige, hoor dit vandag. En druk dit teen jou hart vas, styf vas. God is nie soos ons nie. God ken nie van weggooi nie. God gooi nie sy beloftes weg nie. God gooi jou nie weg nie. Maar nou vra die Here vir my en jou dat ons ook nie so maklik sal weggooi nie.

Hy vra natuurlik in die eerste plek dat ons Hom nie sommer sal weggooi nie. In Eksodus 20 vra Hy Ek eis onverdeelde trou aan My. M.a.w., moet My nie weggooi vir ander gode nie. Ek behoort die belangrikste in jou lewe te wees. Moet My, die Belangrikste in jou lewe, nie sommer weggooi nie. Wees getrou aan My.

Dis juis die Here se probleem met sy volk in Jesaja se tyd. In Jesaja 1:21 sê Hy sy volk het soos ‘n ontrou slet geword. Hulle het soos ‘n vrou geword wat haar man verkul deur by ander mans te slaap. Sy’s nie getrou nie. Sy gooi haar verhouding met haar man in die asblik. So was die Here se volk in Jesaja se tyd.
In Jesaja 17:10 kla die Here oor dieselfde ding. Jy het die God wat jou altyd gehelp het verlaat. Jy het gemaak of die Rots wat jou toevlug was, nie meer daar is nie.
Vriende, ons, ek en jy moet dit nie doen nie! Ons is so gewoond om alles weg te gooi. Ons moet pasop dat ons Hom nie weggooi nie. Ons moet aan Hom getrou bly, soos wat Hy aan ons getrou is. Kom ons gee aan Hom onverdeelde trou. Volledige lojaliteit.

En as daar vandag dinge in jou lewe is wat maak dat jy nie meer aan die Here alleen getrou is nie, dat jou lojaliteit nie meer by Hom en sy koninkryk lê nie, gooi dít weg! Gooi dit weg uit jou lewe! In Jesaja 30:22 sê die Here dat mens die verkeerde goed in jou lewe moet weggooi soos mens ‘n smerige lap weggooi.

Ons wat in hierdie tyd miskien soms die ervaring, die gedagte kan hê van “Het God ons nie dalk weggegooi nie?”, ons moet hoor: Nee, duisend maal nee – Hy wil nie, Hy kan nie, Hy’s getrou. Maar ons, ons wat in ‘n weggooikultuur vasgevang is, moet ook hoor dat die Here in Eks 20:5 van ons vra: Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Amen

Gebed
Here, ons buig vandag opnuut voor U:
voor U, die troue Verbondsgod,
die God wie se ‘ja’ ja is,
die God wie se woord en beloftes vasstaan –
óók vir die volgende geslagte.

Ons bely dat ons wat in ‘n weggooikultuur verval het,
so min verstaan van trou en lojaliteit.
Vergewe ons, omdat ons u nie volledig en met volle oorgawe, vertrou nie.
Here, leer ons weer om U te vertrou.
Leer ons weer om met vertroue op die pad van u Woord te stap.
En Here, asseblief, help ons om getrou te bly –
aan U alleen.
Gee ons die wysheid, krag en moed
om te breek met alles wat ons van trou aan U,
van lojaliteit aan U alleen beroof.

Ons draai vandag opnuut na U en roep na U, troue God:
Dra ons deur hierdie tyd van ‘n virus wat ons bedreig en onseker maak.
Dra ons deur hierdie tyd waarin die ekonomie mense doodwurg.
Dra ons in hierdie tyd waarin die landbou om baie redes swaarkry.
Dra ons in hierdie tyd waarin kerkgeboue se deure gesluit is.
Dra ons Here as ons bene lam raak, en ons van angs hartkloppings kry, en ons nie seker is van ons koers nie.
Dra ons Here in u liefde, u trou en u genade.
Want ons hoop, ons enigste hoop is op U.

Ons bid dit alles in die heilige Naam van ons Here Jesus Christus.
Amen

Antwoordlied
As jy ‘n Liedboek het, kan jy vandag op jou knieë gaan en Lied 517 bid. Dis die lied wat ons nou gaan sing. Lied 517:1,2,3

Seën
Ontvang die seën van die Here, waarna ons luister na die bekende melodie van die lied – Ein feste Burg is unser Gott / ‘n Vaste burg is onse God. In ons Liedboek sing ons Ps 46 op hierdie melodie: God is ons toevlug en ons skut, al gee die aarde onder mee, al word die berge rond geskud, al skuim die waters van die see.

Die Here sal jou seën en jou behoed.
Die Here sal jou aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.
Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen