Sondag 26 April 2020

 

Votum / Geloofsbelydenis
Goeidag op hierdie Sondagmôre – die dag wat ons daaraan herinner dat Jesus uit die dood opgewek is. Ons Here leef!

Ons begin vanoggend met ‘n geloofsbelydenis.
Ons bely ons geloof in die woorde van Psalm 23 – mag dit saam met Dawid regtig die belydenis van jou hart wees.
Lees Ps 23

Seëngroet
Ek groet julle in die Naam van die Vader, en van Jesus Christus – die opgestane gekruisigde, en van die Heilige Gees.
Genade en vrede vir julle.

Woord van bemoediging
Vriende, voordat ons vanoggend die Bybel oopmaak, wil ek julle net eers in die Naam van ons Heer bemoedig vir die paadjie wat ons almal nou loop in hierdie tyd van inperking. Kom ons wees eerlik – dis nie aldag ‘n maklike paadjie nie. Ons almal verlang daarna dat die deure net weer na normaal moet oopswaai.

Weet julle, ek het al in die lewe geleer dat wanneer ‘n mens teen steil bulte moet uitbeur, dat jy nie die heeltyd doer, ver voor jou moet uitkyk nie. Moenie kyk na al die bulte wat jy nog moet oor nie. Dan word mens moedeloos en wonder jy of jy dit gaan maak.
Nee, gaan staan stil, draai om en kyk terug. Kyk net na waar jy vandaan kom. Kyk net na al die bulte wat jy al reeds oor is. Mens staan elke keer verstom as jy sien met watter krag en deursettingsvermoë die Here jou toegerus het om te kon kom tot waar jy nou al is.
Dank die Here omdat Hy jou gebring het tot waar jy nou is. Dank Hom wat die hele pad saam met jou gestap het. Dank Hom omdat Hy die bagasie gedra het. En dank Hom omdat Hy jou regop gehou het toe jy gevoel het jou knieë gaan knak.

En dan – skep daaruit moed vir die bulte wat voorlê. En weet dat die Here in sy trou op die pad wat voorlê elke tree met jou wees.

Gebed
Kom ons bid saam:
Here, ons buig vandag opnuut in dankbaarheid voor U –
• dankie omdat U vir ons tot hier oor die steil bulte gedra het in hierdie tyd van afsondering;
• dankie omdat U ons gees en gemoed optel op daardie dae wat ons voel dat dit moeilik is en ons voete wil sleep;
• dankie omdat U vir ons dag vir dag die krag en die hoop gee om te volhard – ja, om ook in die geloof te volhard.
Here, ons weet en glo U sal ook op die pad wat vir ons voorlê elke tree saam met ons stap.
Dankie omdat ons in Jesus Naam u kinders is en kan weet dat ons kosbaar is in u oë.
Ontmoet ons vanoggend as ons vanuit u Woord nadink ook oor ons eie lewensverhaal..
Ons bid dit in Jesus Naam.
Amen

Boodskap
Vriende, die Woord van die Here lê voor ons oop. Maar ons gaan nie nou saam lees nie. Ek wil julle aanmoedig om self die Skrifgedeelte te gaan lees waaruit die Here vandag met ons praat. Julle het mos nou baie tyd. Los ‘n bietjie al die nuus en sit jou ander boeke neer, en gaan lees die vier hoofstukke van die boek Rut. Gaan lees hierdie vier boeiende hoofstukke.
Iemand het die boek Rut al beskryf as een van die pêrels in wêreldliteratuur en dat niemand al ooit ‘n mooier kortverhaal as dit geskryf het nie.

In die boek Rut vind ons nie die verhale van konings of die boodskappe en voorspelling van profete nie. Ons lees ook nie in die boek van oorloë of heldedade nie.
Nee, die boek vertel die verhaal van ‘n doodgewone gesin, ‘n gelowige gesin. Dit vertel die verhaal van ‘n gesin se swaarkry, teenspoed, hartseer beproewing, en… en… en… Gaan lees dit gerus, en kyk hoe hierdie verhaal uitspeel.

Die verhaal gaan oor Elimelek en sy vrou Naomi, wat leef in ‘n tyd van swaarkry, ‘n tyd van ‘n uitmergelende droogte wat ook beteken dat hulle ekonomies swaarkry. En om te oorleef, besluit hulle om saam met hulle twee seuns na ‘n vreemde land te trek.
Maar dan tref die swaarkry hierdie gesin daar in die vreemde land op ‘n ander manier. Naomi begrawe eers haar man. En, kort daarna, begrawe sy haar twee seuns. En al wat agterbly, is Naomi met haar twee skoondogters – Orpa en Rut, die twee Moabietiese meisies met wie haar seuns getrou het.

En dan gaan die verhaal verder oor Naomi se terugkeer na haar land toe sy hoor dat die droogte gebreek is en dat daar weer kos is. En die verhaal vertel dan ook van Rut, haar een skoondogter, wat saam met haar gaan. En van hoe die Here op ‘n wonderlike manier vir hulle, vir hierdie twee weduwees wat van voor af moet probeer om ‘n bestaan te maak, hoe die Here vir hulle voorsien. Ag, julle moet die verhaal self gaan lees, want daar gebeur nog baie interessante dinge.

Weet julle, met die deurlees van hierdie verhaal die afgelope week, het ek net besef dat daar vir ons in hierdie tyd waarin ons ons bevind, ‘n wonderlike, ‘n bemoedigende boodskap is. Ons swaarkry en beproewing is nie nou net die droogte wat ons in die Klein-Karoo beleef nie. Ja, die droogte is nog nie eers gebreek nie. Maar ons swaarkry en beproewing lê saam met die res van die land en die hele wêreld nou in ons reis met die Korona-virus en alles wat dit meebring. Ons swaarkry en beproewing lê in ons afsondering, in ons onsekerheid, in ons eensaamheid, in ons bekommernisse oor wat die effek van die virus en die inperking op ons lewens, op ons ekonomie, op ons persoonlike geldsake gaan hê. Ons swaarkry en beproewing lê in ons bekommernis oor wat die effek van alles op ons kinders en kleinkinders se lewens gaan wees – hulle loopbane, hulle werk, noem maar op.

Wanneer ek die verhaal van die boek Rut lees, sien ek ‘n paar dinge raak. Ek gaan dit net noem. Julle kan, wanneer julle die verhaal deurlees, verder gelowig daaroor gaan nadink. Ek gaan drie dinge noem.

Die eerste wat ek raaksien, is dat swaarkry, teenspoed, slegte en moeilike dinge soos droogte en dood en veg om ‘n lewe te probeer maak, ook kinders van die Here tref. Naomi en haar man en sy familie (gaan lees maar van sy familie) was gelowige mense. As jy die verhaal lees sal jy sien hoe Naomi, al is dit soms worstelend in haar geloof, met die Here op pad is. Ja, slegte dinge gebeur ook met kinders van die Here. Ons as gelowiges word ook ook getref deur teenspoed. Dit gebeur dat ons as gelowiges ook soms soos Naomi sê dat die lewe bitter is.

Maar – en dit is die tweede ding wat ek raaksien, is dat die Here deur al die swaarkry en teenspoed, nie vir Naomi vergeet het nie. Gaan lees die verhaal. Kyk net hoe lei die Here vir haar. Kyk net hoe voorsien die Here vir haar – met ‘n skoondogter wat by haar staan. Kyk net hoe voorsien die Here met kos deur ‘n familielid wat handel volgens die voorskrifte wat die Here vir sy volk gegee het. En kyk net hoe voorsien die Here vir Naomi met ‘n nageslag – sy’t sowaar, na alles, na al haar swaarkry die vreugde ervaar van ouma word!

Maar dan is daar nog ‘n derde belangrike ding wat mens in hierdie verhaal raaksien – en dit sien mens eers as jy die verhaal enduit lees, as jy sien hoe die verhaal eindig. Die verhaal eindig met ‘n geslagsregister.  Ja, uit die nageslag van hierdie verhaal, uit Boas en Rut, is niemand anders nie as Dawid jare later gebore! Met ander woorde, hierdie verhaal van ‘n gewone gelowige gesin se doen en late, was ‘n klein skakeltjie in die ketting van die geslag van Dawid. En nou weet ons mos dat uit die geslag van Dawid is die Koning van alle konings, Jesus, die Verlosser van die wêreld gebore.

Vriende, ek weet daar is miskien vir ons as gelowiges nog baie te leer uit hierdie verhaal. Maar gaan lees dit, en kyk of jy hierdie drie dinge kan raaksien, en dink ‘n bietjie oor wat dit vir jou, vir ons, nou in hierdie tyd beteken. Kom ons kyk net weer wat is hierdie drie dinge:
1) Die eerste: Daar is nie noodwendig iets met ons geloof verkeerd as teenspoed ons tref nie.  Ja, die Here roep ons soms deur teenspoed tot stilstand – ek dink die Here doen dit nou in hierdie tyd. Die Here roep ons tot absolute stilstand.  Die Here praat soms met ons deur swaarkry en teenspoed – ek dink die Here doen dit nou – Hy praat vir seker met elkeen van ons.  Onthou: gelowiges, kinders van die Here word ook getref deur droogtes, deur virusse, deur siekte, deur dood, deur eensaamheid, deur bankrotskap.
2) Maar, die tweede, en dis so belangrik om dit te onthou: Daar’s een ding wat ons kan weet as ons in geloof aan die Here verbind is: Hy stap hierdie paadjie van swaarkry saam met ons. Hy vergeet ons nie, soos wat die Here nie vir Naomi en Rut nie vergeet het nie. Sy oë is nie gesluit vir ons situasie nie. Sy ore is nie toe as ons kerm en kla nie. Sy ore is nie toe as ons soos Naomi in ons bitterheid met ons geloof worstel nie. Hy’t ons nie vergeet nie. En soos wat Hy vir die weduwees Naomi en Rut in hulle armoede gesorg het, sal Hy ook vir ons sorg. Hy sal uitkoms bring op sy tyd. Hy sal gee en voorsien op ‘n manier wat ons dit glad nie verwag nie. Hy sal selfs ook vir ons weer lewensvreugde gee, soos wat Hy vir Naomi gegee het.
3) En dan die derde. Jy mag dink – aaag wat, my verhaal is nie belangrik nie. My lewensverhaal, my gestoei en gespartel om ‘n bestaan te maak, my gesukkel om ‘n lewe te maak is so klein en niksseggend, niemand sal eers daarvan kennis neem nie. Nee, jy’s verkeerd. Jou lewensverhaal is belangrik in God se oë. Jou lewensverhaal is ook ‘n klein skakeltjie in God se groter koninkryksplan. Jou lewensverhaal is kosbaar om die boodskap van ons Verlosser na hierdie wêreld te bring.

Mag jy, met die deurlees van die kortverhaal van die boek Rut, opnuut ontdek dat God ook met jou, soos met Naomi en Rut, ‘n paadjie loop.
Amen

Gebed
Kom ons bid die woorde van Lied 509:
Op berge en in dale – in goedgaan-tye en in swaarkry-tye – ja, oral is my God!
Waar ons ook telkemale mag swerwe, daar is God!
Waar ons gedagtes swewe of styg, ook daar is God!
Omlaag en hoog verhewe, ja oral is my God!

Sy troue Vaderoë sien alles van naby.
Ons leef uit sy vermoë, word deur sy gees gelei.
Die swaeltjies behoed Hy, beklee met gras die dal.
Die kleinste wurmpie voed Hy, sorg vir die groot heelal.

Roem Cristen heel my lewe is veilig in my God.
Waar alles my begewe, of waar ek ly, is God.
Waar troue vriendehande nie red nie, daar is God.
Selfs in die dood se bande – ja, oral, is my God.
Amen

Uitnodiging en Dankoffer
‘n Paar lidmate het my die afgelope twee weke gekontak en gevra: Hoe moet ons maak met ons dankoffer? Dis tog deel van ons diens en dankbaarheid aan die Here.  Jy kan jou dankoffer elektronies oorbetaal (EFT) as jy oor die fasiliteit beskik. Bankbesonderhede is op jou almanak – of kontak my. Die enigste ander alternatief hier by ons in Moeder-gemeente, is dat jy jou offer kan bêre tot wanneer ons weer eredienste het of die kerkkantoor weer oop is.

Ek wil ook die ope uitnodiging opnuut bevestig: As enigeen van julle ‘n behoefte het aan ‘n geestelike gesprek, of jy’t behoefte aan bemoediging of ‘n gebed, kontak my gerus, my telefoonnommers is ook op die almanak.

Seën
Ontvang die seën van die Here.
God die Vader sal jou altyd liefhê,
God die Seun sal jou altyd genadig wees,
God die Heilige Gees sal jou altyd vertroos en in die waarheid lei.
Amen