SONDAG 16 AUGUSTUS 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
EREDIENS OP YOUTUBE
SONDAG 16 AUGUSTUS 2020
Ds Smuts van Rensburg

Votum
Goeiedag liewe medegelowiges. Op hierdie Sondag word ons stil en buig ons in aanbidding voor die Heer.

Ons leef in die tyd van die oorverdowende lawaai van Covid 19, van inperkingsmaatreëls, van politici se stemme, van die doodsroggel van die ekonomie.

Draai jou kop ‘n bietjie weg, anderkant toe… windaf…

En luister na die sagte wind van die Gees…
Maak soos Sefanja 1:7 vir ons sê: Wag in stilte op die Here.
Luister, luister mooi… en jy sal die stem hoor van Hom wat in Mark 4 die wind en die storms bestraf het – en toe het daar ‘n groot stilte gekom.

Luister na YouTube video: Wees stil en weet, die Here is jou krag

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Aankondiging van lofsang
Kom ons loof Hom wat in sy majesteit na ons kom. Kom ons loof Hom in sy glansryke heerlikheid – want ons wil Jesus, die Koning, hulde bewys.

Luister na YouTube video: Majesteit

‘n Lewe van liefde
Jesus leer ons as sy volgelinge om in hierdie stormagtige wêreld ‘n lewe van liefde te leef.
In Johannes 13 lees ons dat Jesus, nadat Hy sy dissipels se voete gewas het, vir hulle sê: Ek gee julle ‘n nuwe gebod – julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, só moet julle mekaar liefhê. (v34)
1 Kor 13 definieer vir ons God se soort liefde:
God se soort liefde is geduldig, vriendelik, nie afgunstig nie,
nie grootpraterig nie, nie verwaand nie.
Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.
Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

En dan roep vers 13 dit met ‘n uitroepteken uit:
En nou – geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.
En die grootste hiervan is die liefde!

Luister na YouTube Video: Praat ek mense eng’le tale

‘n Lewe van oorgawe en gehoorsaamheid
God se liefde vir ons dring ons om ‘n lewe van liefde te leef – dit dring ons om ‘n lewe van oorgawe aan Hom te leef.

Rom 12:1 vra dat ons op God se genadige verlossingswerk sal antwoord:
Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.

Kom, gee in antwoord op sy liefde jouself vandag opnuut aan Hom.
Sê vir Hom met jou hele hart: Hier is ek Here. Neem my lewe, neem my hande, my voete, my stem, my goud en silwer… Neem my alles Here.

Luister na YouTube: Neem my lewe laat dit Heer

‘n Lewe van gebed
God se liefde vir ons dring ons om ‘n lewe van liefde te leef, dit dring ons om ‘n lewe van oorgawe aan Hom te leef…
Sy liefde vir ons dring ons ook om ‘n lewe van gebed te leef.
‘n Mens wat God se liefde ken, wíl bid. Jy wíl soos Jesus in gesprek met jou hemelse Vader wees.
1 Tes 5:17 is ‘n opdrag – maar dis nie ‘n moeilike opdrag nie, dis ‘n lekker opdrag. 1 Tes 5:17 sê mos vir ons as volgelinge van Jesus: Bid gedurig.

Gebed
Here, ons Here,
ons buig vandag laag voor U troon,
ons aanbid U.
Mag u Naam groot gemaak word.
Mag U al die lof en die eer en die heerlikheid ontvang wat U toekom.
Ons bring ook vandag opnuut aan U ‘n offer van dank –
dank vir U liefde en genade.
Ons dank U omdat ons ook in hierdie onseker tyd –
onseker oor ‘n gevaarlike virus, onseker oor ‘n sukkelende ekonomie, onseker oor ons politiek en veiligheid –
ja, ons dank U dat ons te midde van dit alles kan weet
niks en niemand kan ons van U liefde skei nie.
Dankie vir U liefde in Jesus Christus –
ten spyte van alles, te midde van alles.
Maar ons dank U ook omdat ons met ons smekinge en voorbidding
na U kan kom –
U nooi ons om in die Naam van Jesus met vrymoedigheid tot U te nader.
Ons vra dan vandag Here – wees asseblief met ons in hierdie tyd
van ‘n virus wat mense bang, onseker, dood maak.
Wees asseblief met die familie en geliefdes van hulle wat in hierdie tyd siek is.
Wees asseblief met dokters, verpleërs, en alle ondersteunende dienste.
Wees met dié wat verlang na geliefdes se aanraking.
Wees met dié wat swaar trek as gevolg van die ekonomie.
En dan vra ons Here – asseblief – wees ons genadig
deur ons te verlos van misdadigers, van korruptes, van diewe en moordenaars.
Leer ons as gelowiges, maar leer ook ander asseblief weer wat woorde soos eerlikheid, integriteit, reg en geregtigheid, beteken.
Leer ons almal om alle lewe hoog te ag, om die huwelik van man en vrou as instelling van God hoog te ag, om die gesinslewe te bewaar.
Leer ons om reg en geregtigheid aan alle mense te laat geskied.
Leer ons om weer die evangelie te glo, én te verkondig –
met die hartsoortuiging dat Jesus alleen die Weg, die Waarheid en die Lewe is.
Here, ons bid dit met smekende hande –
vir onsself, vir ons land, vir Afrika, vir die wêreld.
Ons bid dit sodat U koninkryk kan kom en u Naam verheerlik kan word. Amen

Luister YouTube video: Heer ons dink aan Afrika

Seën – met die belofte van oorwinning
Ons seënbede vandag is die woorde van Ef 3 vanaf v16
Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal bly. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

Mag Hy dit alles in sy genade doen, sodat ons in die oorwinning kan deel waarvan Openbaring getuig:
Elkeen wat die oorwinning behaal, sal wit klere dra. Ek sal sy naam nooit uit die boek van die lewe uithaal nie. (3:5)
Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. (3:12)
Elkeen wat die oorwinning behaal sal Ek saam met My op my troon laat sit. (3:21)
Amen

Luister na YouTube: Oorwinningslied