SONDAG 13 SEPTEMBER 2020

 

OUDTSHOORN MOEDERGEMEENTE
EREDIENS per YOUTUBE SONDAG 13 SEPTEMBER 2020
SKRIF: MARK 1:32-39
TEMA: STAP IN JESUS SE GEBEDSPORE

Votum
Goeiedag liewe vriende. Wanneer ons vandag voor die Here stil word, lê die Bybel voor ons oop by Ps 31:25 waar ons die bemoedigende woord hoor:
Wees dus sterk en hou goeie moed,
julle almal wat julle vertroue in die Here stel.
En dan hoor ons in Ps 33:22 die gebed:
Hou u liefde oor ons, Here,
want ons stel ons vertroue in U.

Kom ons doen saam met ‘n klompie seuns en dogters ‘n belydenis dat ons nooit gaan opgee nie, ons gaan nie handdoek ingooi nie, want ons plaas ons vertroue in die Here alleen.

Luister na
Video van tienerkoor – Nevergiveup… Trust in the Lord

Seëngroet
Aan almal wat hulle vertroue in die Here plaas, en in Hom alleen:
Genade, barmhartigheid en vrede vir julle.

Aankondiging van Skriflesing
Die Woord van die Here wil ons vandag opnuut herinner aan watter belangrike rol gebed in ons lewe speel om ons verhouding met die Here te versterk, om ons vertroue in Hom te versterk – sodat ons ook nooit sal opgee nie.
Ons gaan saam lees uit die evangelie van Markus en kyk na watter rol gebed in Jesus se lewe gespeel het. Ons lees Mark 1:32-39.
Skrif: Mark 1:32 – 39
Teks: Mark 1:35

Gebed
Voordat ons saam lees, bid ons en vra dat die Here deur sy Woord en Gees ons harte sal aanraak.
Here, wanneer ons vandag,
met die geopende Woord in gebed voor U buig,
wil ons U aanbid, en vra ons:
gee vir ons harte wat deur U wil gevorm word;
en leer ons om ons in alles aan U wil en leiding te onderwerp.
Ja, leer ons om met harte wat gloei van liefde
in die voetspore van Jesus te stap. Amen

Skriflesing
Mark 1:32-39

Teks
Ons teksvers is Mark 1:35: Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid.

Preek
Ek het iewers gelees dat iemand skrywe dat daar ‘n groot verskil is tussen bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus Christus. Bewonderaars van Jesus is mense wat Hom beskou as ‘n baie besondere mens of ‘n uitsonderlike wese. Leerlinge van Jesus is weer mense wat sê ons kan baie by Jesus leer. Maar dissipels is meer as dit alles saam. Dissipels van Jesus bewonder Hom. Dissipels van Jesus aanbid Hom. Dissipels van Jesus leer van Hom. Maar dissipels van Jesus volg Hom ook. Dissipels van Jesus stap in sy voetspore. En weet julle as daar nou een saak is waarin die Here Jesus se voetspore baie duidelik voor ons lê, dan is dit die spore van die gebedspad wat Hy gestap het.

1.  As ‘n mens na Jesus se lewe op aarde kyk, dan kom jy agter dat Hy ‘n geweldige behoefte en begeerte gehad het aan gebed. Daar was baie duidelik hierdie behoefte om deur gebed met sy Hemelse Vader in kontak te wees.

(a) Dis waarom gebed so ‘n belangrike plek ingeneem het in Jesus se lewe. In sy program van elke dag. In sy gewone roetine van elke dag het Hy ruimte gemaak vir gebed. Die skrywers van die evangelies in die Bybel – Matteus, Markus, Lukas en Johannes – vier manne wat daagliks saam met Jesus geleef het, hulle praat sommer ‘n hele paar keer van Jesus se gebedslewe. En hulle doen dit, omdat hulle vir Jesus heel dikwels gesien en gehoor bid het.
• Kyk nou maar na hierdie Skrifgedeelte wat ons saam gelees het. Markus is hier eintlik besig om te vertel van Jesus se genesingswerke. Dis eintlik waaroor dit hier gaan. Maar dan onderbreek hy homself in die woorde van ons teks, v35, as hy melding maak van Jesus wat gaan bid het.
• As mens na Markus 6 omblaai, dan lees ons daar van die wonder van die eerste vermeerdering van die brood. En dan, in vers 46, net nadat Jesus die mense huistoe gestuur het, sê Markus dat Jesus na die berg toe gegaan het om daar te gaan bid.
• Lukas skrywe byvoorbeeld weer vir ons in hoofstuk 5:16 dat Jesus Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder het om daar te gaan bid. Hoor die woordjies altyd weer. Met ander woorde, Jesus het die gewoonte gehad om te gaan bid. Dit het heel dikwelsgebeur.
• In hoofstuk 11:1 skrywe Lukas ook dat Jesus juis besig was om te bid, toe een van sy dissipels vir Hom gevra het: Here, leer ons bid. Dit was toé dat Jesus vir hulle die grootste gebed van alle tye, die Ons Vader-gebed, geleer het.
• In Johannes 17 is die aangrypende gebed van Jesus. Die hele hoofstuk is ‘n gebed – wat bekend staan as die Hoëpriesterlike gebed van Jesus. (Gaan lees dit gerus – Johannes 17)
En so kan ons aangaan. Want in die vier evangelies word daar ten minste 25 keer van Jesus en gebed gepraat. So Jesus het as bidder duidelike spore, diep spore getrap. Want Jesus het die behoefte en begeerte gehad om in gebed met sy Hemelse Vader te praat.

(b) Maar nou lees ons ook in die evangelies dat om te bid was vir Jesus baie, baie belangrik wanneer daar groot en gewigtige dinge in sy lewe plaasgevind het. Kom ons noem sommer vinnig ‘n paar voorbeelde.
• Voordat Jesus sy openbare bediening begin het, voordat hy begin preek het en wonderwerke gedoen het, het Hy veertig dae en nagte in gebed deurgebring. Hy wou hierdie taak nie aanpak, voordat Hy uit sy gebedskontak met die Vader die krag en die wysheid gekry het wat sou nodig wees nie.
• So lees ons ook dat voordat Jesus sy twaalf dissipels gekies het – en dit was tog ‘n baie belangrike gebeurtenis – het Hy ‘n nag in gebed deurgebring.
• En dan natuurlik, aan die einde van sy lewe, voordat Hy met sy kruistog begin – die lydenspad waarop Hy sou stap, gaan worstel Hy in ernstige gebed in die tuin van Getsemané.

Liewe medegelowiges, sien julle die spore van die gebedspad wat Jesus voor ons uitgetrap het? Sien julle die spore van Jesus wat gedurig gebid het, van Jesus wat tydens sy aardse lewe hierdie begeerte gehad het, hierdie behoefte om in gebedskontak, om in gesprek met sy Vader te wees.

Om met sy Vader te praat, was vir Hom baie belangrik. Om met sy Vader te praat, het vir Hom vreugde gebring. Vanuit sy gebedskontak met die Vader, kon Hy krag kry vir sy taak van elke dag – krag vir elke groot taak wat die Vader vir Hom gegee het om hier op aarde te kom doen. Uit gebedskontak met sy Vader het Hy die wysheid geput vir elke situasie waarin Hy hom sou bevind. Jesus kón nie sonder gebed lewe nie. Jesus woú nie sonder gebed lewe nie. Dit was vir Hom net té belangrik.

Nou vriende, as dit waar is van Jesus Christus, die Seun van God, dan moet dit ook mos waar wees van my en jou wat volgelinge, wat dissipels van Jesus is. As ons dissipels van Jesus is, moet ons in die gebedspore van Jesus trap. Daar moet by my en jou ook hierdie drang wees, hierdie begeerte wees om in gebedskontak met ons Hemelse Vader te leef. Daar moet by ons ‘n behoefte wees om met Hom te praat. Daar moet by ons hierdie besef wees dat ons nie sonder gebedskontak met die Vader kán leef nie. Gebed moet vir ons die asemhaling wees, die suurstof van ons geloofslewe.

Vriende:
• Soek jou vreugde vir die lewe in jou gebedsgemeenskap met jou Hemelse Vader.
• Soek jou krag vir dit wat jy elke dag moet doen, op jou knieë.
• Soek die wysheid wat jy nodig het vir hierdie lewe (wysheid om te onderskei waarop dit aankom, wysheid vir antwoorde waarna jy soek, soek dit…) in gebed by jou Hemelse Vader.
• Soek jou leiding vir besluite wat jy moet neem – groot besluite en kleiner besluite – in gebed by die Here.
• Kry jou inspirasie om as getroue volgeling van Jesus te lewe, op jou knieë.
• Waar begin jou geestelike groei? Dit kom deur gebed.
• Waar word jou vertroue in die Here gevoed? In gebed.
• Bid dat jy in geloof, in navolging van Christus sal volhard en nie opgee nie.
• By alles wat reeds gesê is, sê die Heidelbergse Kategismus dat gebed die belangrikste manier is waarop jy jou dankbaarheid teenoor die Here kan uitleef.
• As jy berusting soek oor kwessies in jou lewe, as jy stoei met lewensvrae, gaan stoei met die Here in gebed.
• As jy bitter is, as jy kwaad is, bid daaroor!
• Dis op jou knieë waar jy jou lewensprobleme moet aanpak. Jou werksprobleme, jou selfbeeldprobleme, jou finansiële probleme, jou huweliksprobleme, jou verhoudingsprobleme – pak dit aan op jou knieë. Bid daaroor, sodat die Here vir jou leiding kan gee, krag kan gee, wysheid kan gee. Bid daaroor sodat die Here dinge kan verander, of dalk vir joú kan verander
• Waar lê ’n mens se kragbron, jou voedingsbron om in liefde te leef? Ons kragstasie is gebed. (En, anders as Eskom, lewer hierdie kragstasie onbeperkte liefde.) Dis in gebed waar jy die liefde gaan kry vir jou lewensmaat en jou familie en jou bure en vir alle ander mense.
• As jy diensbaar wil wees en toegerus wil word om diensbaar te kan wees in die Here se koninkryk, bid daaroor. Wanneer jy bid vir toerusting om diensbaar te wees sal die Here dit vir jou gee.
• As jy vrede soek in die lewe, die ware vrede wat Christus gebring het, sal jy dit vind as jy bid.

Nou as jy graag wil hê dat dit in jou lewe moet gebeur, dan is daar nog twee baie belangrike dinge wat jy in Jesus se lewe moet raaksien. Twee dinge waarin jy ook moet seker maak dat jy in Jesus se voetspore trap.

2.  Die eerste is dat Jesus tyd gemaak het om te bid. Gebed was vir Hom só belangrik dat Hy tyd gemaak het.

Kyk, ons moet nou nie dink dat Jesus nie besig was nie. Miskien dink jy dat Jesus nie so ‘n vol program gehad nie. Nee, gaan lees maar in die evangelies: Jesus was baie besig met ‘n vol program. Sy dagboek was vol geskryf. Ons sien dit byvoorbeeld in hierdie paar verse wat ons saam gelees het.
Vers 31 vertel vir ons hoe Jesus Petrus se skoonmoeder gesond gemaak het.
Vers 32 vertel hoe daar dieselfde aand ‘n klomp siekes en duiwelbesetenes na Hom gebring is.
Vers 33 vertel hoe die hele dorp om Hom saamgedrom het.
In vers 37 lui sy selfoon as sy dissipels vir Hom sê almal soek U.
Vers 38 vertel dat Hy weer op pad was na ‘n volgende punt om daar te gaan preek.
Hoor julle, Jesus se dagboek was vol afsprake. En tog lees, tussen alles deur, dat ons teks sê: Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan … en gaan bid.

Jesus het tyd gemaak om te bid. Hoekom? Omdat dit vir Hom ‘n prioriteit was.

Ons leef in ‘n baie besige en gejaagde tyd. Selfs hier op die platteland loop alles nie teen ’n slakkepas nie en is mense se programme oorlaai. Ek hoor selfs pensioenarisse sê dat hulle verskriklik besig is. Ons het verpligtinge, ons is betrokke by baie dinge – dis werk, skool, kerk, sport, kultuur, boerevereniging… noem maar op. O-ja, en dan is daar nog al die TV-programme waarmee ons moet byhou. En iewers tussenin moet ons nog ontspan ook.
Ons sê van jongs af vir onsself ons het nie tyd nie – ons het selfs nie tyd om te bid nie. En as ons wel ‘n tydjie vind, is dit afskeeptye. Miskien ‘n minuut of twee per dag. ‘n Vinnige gebedjie sodat ek net nie skuldig voel nie. ’n Vinnige gebedjie sodat die Here kan kennis neem van al my versoeke.

Miskien moet ons sommer vandag ‘n besluit neem en vir onsself sê: Ek gaan my prioriteite regkry. Soos wat ek vir baie ander dinge tyd maak, gaan ek tyd maak om te bid. Ek gaan vir my ‘n dissipline kweek om sekere tye te bid.
Daar het ‘n paar jaar gelede ‘n boekie verskyn met die titel: Te besig om nié te bid nie. M.a.w. hoe besiger jy is, hoe meer moet jy bid.

Kinders, jongmense, miskien moet julle sommer nou, terwyl julle jonk is, hierdie groot besluit neem – omdat die Here vir my belangrik is, omdat my verhouding met Hom belangrik is, daarom gaan ek daagliks tyd maak om te bid.
Dis eienaardig dat mense die dissipline kan hê om elke aand sewe-uur op TV nuus te kyk, maar hulle kan nie elke dag op sekere tye die dissipline hê om met die Here te praat nie.

Nou-ja, natuurlik is dit so dat ons die hele dag, so tussen alles deur, met die Here kan praat. Dis reg so. 1 Tes 5:17 sê mos bid gedurig – wat nie beteken dat ons heeldag in die kamer moet bly om te bid of heeldag met toe oë moet loop nie. Nee, dit vra dat ons harte en gedagtes voortdurend op die Here ingestel moet wees. Daar moet voortdurende kontak tussen my en die Here wees. Daar is natuurlik ook so iets soos skietgebede. Dis reg. Maar iewers moet ons in ons dag se program ‘n tyd vind, ‘n tyd inruim om rustig in gebed voor die Here stil te word. ‘n Tyd om Hom te aanbid. ‘n Tyd om rustig uit die hart met die Here te gesels. Miskien moet ons die les by Jesus leer – Hy het dit vroeg in die oggend gedoen. Maar maak nie saak watter tyd jy daarvoor inruim nie – maar vind net ‘n tyd vir jou en die Here. ‘n Tyd vir gebed.

3.  Die laaste ding wat ons moet raaksien as ons in Jesus se gebedspore wil trap, is dat Hy ook ‘n plek gehad het waar Hy regtig kon stil word, ‘n plek waar Hy Hom kon afsonder om deur gebed in kontak met sy Vader te wees. Kom ons hoor weer wat sê ons teks: Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid. Luister mooi: Na ‘n eensame plek. Daar is ‘n hele paar verse wat sê dat Jesus plekke van eensaamheid, plekke van stilte opgesoek het as Hy wou bid. Luk 5:16 sê dit pertinent: Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.

Natuurlik kan mens enige plek bid. Jy kan agter jou motor se sturwiel bid. Jy kan in die kombuis bid terwyl jy kos voorberei. Jy kan bid terwyl jy draf of ’n ent gaan stap of waar ookal. Jesus het vir seker ook so deur die dag op verskillende plekke met sy Vader gesels. Maar dit was nie vir Hom genoeg nie. Hy het gereeld vir Hom ‘n eensame plek gesoek, ‘n plek waar Hy Hom kon afsny van alles rondom Hom. ‘n Plek waar Hy regtig kon stil word om op sy Vader in te fokus en uit sy hart met Hom te kon gesels. ‘n Plek waar Hy alleen met God die Vader kon wees.
Kom ons sê weer: Daar is nie vir ons voorskrifte nie. Maar die belangrike is dat jy vir jou so ‘n plek moet kry waar jy regtig, in afsondering, in stilte, met God kan praat, sonder om gesteur te word.

Slot: Kom, kom ons as dissipels van Jesus trap in die voetspore van Jesus op die gebedspad wat Hy gestap het. Kom ons besluit dat ons gebedstyd die belangrikste tyd van elke dag gaan wees. Maar meer nog, mag dit ook vir jou die mooiste tyd van elke dag wees – daardie tyd van stil wees, van in gesprek wees met die Here. Amen

Gebed
Here, ons vra vandag met nuwe oorgawe:
Leer ons bid.
Leer ons om in die voetspore van ons Here Jesus te stap
op die gebedspad wat Hy geloop het.
Amen

Luister na
Opname van Lied 266 – Ons Vader gebed

Seën
Volhard in gebed en weet dat die Here julle sal seën en beskerm;
Volhard in gebed en weet dat die Here tot julle redding sal verskyn en dat Hy julle genadig sal wees;
Volhard in gebed en weet dat die Here julle gebede sal verhoor en dat Hy aan julle sy vrede sal gee! (Num 6:24-26)
Amen