Pinkster 2020 Tema 4: Bid dat die Heilige Gees ons oë open…

 

Pinksterreeks: God se verlossingspad met ons
Tema 4: Bid dat die Heilige Gees ons oë open…
sodat ons God se liefde en genade kan ken
Skrif: Ef 2:1-10 1 Joh 4:7-10

Inleiding
Baie welkom by ons vierde boodskap van ons Pinksterreeks wat handel oor die verlossingspad wat God met ons loop. En terwyl die winterkoue nader kruip – mag die Gees ons harte warm maak as ons na die Woord van die Here luister.

Gebed
Kom ons bid saam.
Kom o Gees van God
om elke opstandige begeerte uit my te verdryf
om in my te heers
om my u s’n te laat bly
Kom as onderwyser
lei my in die waarheid en vul my met totale begrip
Kom as liefde
sodat ek die Vader sal aanbid en as my alles sal liefhê
Kom as vreugde
om in my te woon en te werk en my te besiel
Kom as lig
wat die Skrif glashelder verduidelik
Kom as heiligmaker
sodat ek met liggaam, siel en gees aan U kan behoort
Kom o Gees
en vermenigvuldig die heerlikheid van Christus in my
Amen

Skriflesing
Ons Skriflesing is uit Ef 2:1-10; 1Joh 4:7-10
Ons gaan in Ef 2 net die eerste 8 verse lees. Lees Ef 2:1-8(a)
En dan lees ons 1Joh 4:7-10

Preek
Ons het in ons eerste boodskap gehoor dat God die inisiatief neem om met ons die verlossingspad te stap, en dat Jesus Christus die fondament is van die pad wat Hy met ons stap.
In die tweede boodskap het ons gehoor dat Hy op hierdie pad deur die werking van die Heilige Gees ons oë wil oopmaak en ons gedagtes en harte wil nuut maak.
In die derde boodskap het ons gehoor dat die Gees ons oë wil oopmaak sodat ons onsself werklik kan ken – sodat ons kan besef dat ons uit onsself verlore sondaarmense is, en dat ons van nature altyd maar weer geneig is tot die kwaad.

Nou in die eerste drie verse wat ons vandag gelees het, word ons weer daaraan herinner dat ons uit onsself dood is as gevolg van ons oortredings en sondes, en dat ons lewe gekenmerk word deur ‘n sondige geneigdheid.

Nou hierdie kennis van jouself, hierdie erkenning en belydenis van jou sondige aard, is nie net belangrik om die eerste treë op die verlossingspad te kan gee nie. Dis belangrik vir jou hele lewe. Vir elke tree wat God met jou op die verlossingspad stap. Daar moet op die verlossingspad maar altyd hierdie diepe, hierdie nederige bewustheid en besef wees van mens se sondige aard. Van mens se swakheid. Ons moet telkens maar weer, dag vir dag, hieroor in verootmoediging voor die Here buig.

Nou is dit so dat die Calvinisme soms daarvan beskuldig word dat dit te veel klem lê op mense se sondigheid, en die mens se sondige aard. Sommige gaan selfs so ver om die leer van die erfsonde te verwerp. Daar word gesê dat dié leer mens se selfbeeld en selfvertroue afbreek, en dat dit jou dus moedeloos maak – dit maak van jou ‘n kop-onderstebo mens. Daar is selfs dié wat sê daar nie in ons eredienste ’n tyd van verootmoediging moet wees waarin mense weer aan hulle sondigheid herinner word nie. Daarom moet ons ook nie meer die gebooie van die Here lees nie. Ons is mos nou verlos. Ons moet nou net lofliedere sing en die Here loof en prys!

Weet julle, so ’n benadering hou nie rekening met hoe diep ons sondige aard is nie. Dit hou nie rekening met die werklikheid dat ons, al is ons verlos, ons harte telkens maar weer in ‘n verkeerde rigting neig nie. Dit vergeet dat ons dag vir dag maar weer teen God en sy wil in opstand kom. Dit vergeet dat selfs ons beste bedoelings, en ons goeie dade, en selfs ons gebede dikwels met sonde besmet is.

Maar, so ‘n benadering vergeet ook – en dit is die belangrike punt wat ons moet hoor, die belangrike punt wat Paulus hier in Ef 2 maak – dat, om die Here te loof en prys, moet ons goed weet waarom/waarvoor ons Hom loof en prys. As ons aan ons sondes en ons sondige aard herinner word, is dit nooit om ons moedeloos te maak nie. Glad nie. Dis om ons net meer en meer te laat besef dat ons net uit genade gered word! Dis alleen wanneer ’n mens se oë deur die Heilige Gees geopen is, sodat jy jouself kan sien, dis alleen dan dat jy iets verstaan van die grootheid en die rykdom van God se genade – dat Hy my as sondaarmens kom red het. En dis alleen dan dat jy nie anders wil nie en nie anders kan nie as om God te loof en prys.

1. Ons loof God en ons prys sy Naam omdat Hy die GOD VAN LIEFDE is

In Ef 2:4 sê Paulus dat God ons liefhet. Johannes verklaar dat God in sy wese liefde is – 1 Joh 4:8 God is liefde. Jy kan nie aan God dink, sonder om aan sy liefde te dink nie. In ons eerste boodskap uit Ef 1:3-14, het ons gesien dat Paulus God se heerlikheid en grootheid besing vir dít wat Hy gedoen het. En as mens nou gaan kyk na wat God gedoen het, dan kan jy net tot een gevolgtrekking kom, en dit is dat God dít wat Hy doen, doen Hy alleen maar omdat Hy in sy wese liefde is! Ons het gehoor dat toe Adam en Eva hulle rug op God gedraai het, was Hy die Een wat hulle gaan opsoek het. Hoekom? Omdat Hy die God van liefde is. As God besluit om met ’n mens, ’n doodgewone mens wat in sonde ontvang en gebore is ’n verbond te sluit – hoekom? Omdat Hy die God van liefde is!

En dit is wat Paulus in Ef 2 vir ons onderstreep. Hy begin nie in vers 1-3 en praat oor ons sondigheid en ons verlorenheid om ons moedeloos te maak nie, maar juis om die grootheid van God se genade te beklemtoon. Want Hy skryf direk daarna in v4: MAAR, God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Ten spyte van wat ons is. Ten spyte van wat ons verdien. MAAR, God het ons innig lief. Want God is in sy wese liefde.

2. Die tweede rede waarom ons Hom Hom loof en prys, is omdat Hy sy liefde op ondubbelsinnige wyse bewys het. Hy BEWYS SY LIEFDE DEUR JESUS CHRISTUS

In 1 Joh 4:8 verklaar Johannes dat God liefde is. En dan sê hy in die volgende vers hoe ons dit weet. Hy sê Hiérin is sy liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. In Jesus Christus kom God vir ons wys dat Hy die God van liefde is. Hy kom wys vir ons in Jesus Christus hoe ver en wyd en hoog en diep sy liefde vir ons lê.

As ’n mens, diep bewus van jou sonde en verlorenheid sou vra: Hoekom het God sy Seun gestuur? Wat het Hom daartoe beweeg? Dan gryp dit jou aan die hart as jy besef: Net een ding – God se liefde! Sy liefde ook vir my! En Hy’t sy liefde bewys deur sy Seun te stuur – ook ter wille van my.

3. En weet jy, dis eers as mens besef hoe klein jy is, hoe swak jy is, hoe verlore jy is, dat dit tot jou deurbreek dat God se liefde wat na ons toe kom, God se liefde wat in Christus Jesus na ons kom, is ’n genadige liefde.

Ons kan en wil God loof en prys:
– Omdat Hy die GOD VAN LIEFDE is
– Omdat Hy sy LIEFDE BEWYS DEUR JESUS CHRISTUS
– Omdat sy liefde ‘n GENADIGE LIEFDE is.

Kom ons staan net vir ‘n paar oomblikke stil by die woordjie genade – want dis mos een van daardie woorde wat ons baie in die kerk gebruik, en miskien dink ons nie altyd mooi wat dit beteken nie.
In Ef 2:4-8 beskrywe Paulus vir ons God se verlossingsdade. En dan gebruik hy 4 woorde wat as motivering dien vir God se verlossingsdade.
– Barmhartigheid (v4)
– Liefde (v5)
– Goedheid (v7)
– Genade (v5,7,8)
Lees: v5,7 & 8

Wat hier staan, is dat dit wat God met ons deel, deel Hy met ons uit vrye wil. Hy deel dit sonder dat ons ‘n stukkie daarvan kan verdien. Daar is nie ’n manier waarop ’n mens vir dit wat uit genade na jou kom, kan vergoed, of betaal nie. Die woord genade dra die diepste betekenis van die begrip verniet – sonder enige voorwaarde, gratis, pasella. Daar’s ‘n lied in ons Liedboek wat dit so mooi sê:
Alles, alles is genade,
onverdiende guns alleen.
Die verlossing uit die kwade,
kan net U, O God, verleen. (Lied 244)

Die woord genade is natuurlik ’n verhoudingswoord. Net soos wat die woord sonde ook ’n verhoudingswoord is. Sonde sê vir ons iets van ons houding teenoor God, en ons verhouding met God. Net so sê die woord genade vir ons iets van God se houding teenoor ons, en van sy verhouding met ons. As God by die doop ’n verbond met ons sluit, en Hy Hom daartoe verbind om ’n pad met ons te loop, dan sê ons dis ’n genadeverbond – God wil in ‘n verhouding met ons staan. Hy wil ons hemelse Vader wees en Hy wil ons sy kinders maak.

Die woord genade is seker die mooiste woord wat ek as sondaarmens kan hoor. Want dit maak nie saak wie ek is en wat ek is nie. Dit maak nie saak hoe my verlede lyk nie. Dit maak nie saak hoeveel keer ek al gevou en gestruikel en geval het nie. Dit maak nie saak hoe vuil my hande is of hoeveel geraamtes ek in die kas het nie. Ek kan weet dat sy genade is vir my genoeg. As die skroeiende sonstrale van my foute en tekortkominge en verlede my wil stukkend brand, dan is sy genadige liefde die sambreel wat aan my koelte gee.
En as ek bibber en beef en wil verkluim van my sonde en ellende, dan is sy genadige liefde die kombers wat my met warmte wil toevou.

Dis so belangrik dat ons die betekenis van die woorde genade en liefde nie moet mis nie. Dit moenie sommer so, omdat ons dit so baie gebruik by ons verbyglip nie. Miskien kan jy vanaand in jou stiltetyd net ’n tyd lank gaan stilsit en biddend nadink oor die twee woorde: God se liefde, en God se genade.
As ons in die Pinkstertyd moet bid dat die Gees ons oë oopmaak sodat ons onsself kan ken, dan moet ons ook in die Pinkstertyd pleit dat die Heilige Gees die katarakte van ons oë verwyder, sodat ons weer God se genadige liefde kan raaksien. Bid daarvoor. Fokus daarop. Jubel en juig daaroor. Want sy genade en liefde is vir jou genoeg. Amen

Gebed
Genade, onbeskryflik groot
het U aan my bewys;
verlore seun – ‘n wegloop-kind,
weer in die Vaderhuis.

Genade onbeskryflik groot –
daar’s fees, ek is weer tuis.
U Seun bring my – verlore mens,
weer in die Vaderhuis.
Amen