Oujaarsdiens 31 Desember 2020

 

Liewe lidmate, vriende en familie, hier op die laaste dag van 2020 deel ek graag met julle ‘n boodskap uit die Woord van ons Heer. Ons weet mos dat sy Woord as waarheid vasstaan oor alle eeue! Mag die Woord ook in 2021 vir jou die Woord van lewe, hoop, krag en inspirasie wees. Mag die Woord dag vir dag die rigtingwyser vir jou lewe wees. En mag jy, wanneer jy die Woord lees of hoor, die Here self ontmoet – Hy wat in en deur sy Woord aan die woord is.
Ons wens vir julle ons Heer se seën vir 2021 toe. Wandel met Hom. Vind jou vreugde in Hom. Geniet en vier die lewe as geskenk uit Sy hand. Lewe voluit en maak die beste en mooiste van elke dag wat Hy vir jou gee. En maak die lewe ook goed en mooi vir almal om jou.