MOEDERGEMEENTE IN GRENDELTYD (lockdown) agv COVID 19

In hierdie tyd is ook die kerkraad en gemeente wetlik verplig om al die grendeltyd regulasies wat deur die president aangekondig is, na te kom. Natuurlik is ons harte seer omdat ons as gelowiges nie soos altyd bymekaar kan kom om die Here te dien en te aanbid nie. Ons is hartseer omdat ons nie as gemeente met ons normale werksaamhede voort kan gaan nie. Ek glo meeste van ons verlang na die samekomste van gelowiges. Maar, aan die ander kant wil ons as gelowiges tog ook verantwoordelik optree deur ons leuse uit te leef: LIEFDE LEEF.  Juis omdat ons die Here se liefde wil uitleef, wil ons omsien na mekaar se gesondheid.  Daarom, en omdat ons as Christen-burgers van die land ‘n voorbeeld wil stel oor gehoorsaamheid, respekteer en handhaaf ons die “lockdown”-reëlings.

In hierdie vreemde tyd vind ons egter nuwe maniere om voort te gaan met die bediening van die Here se Woord en sy liefde.

Ons doen dit op die volgende maniere:
* Ons kan ongelukkig geen eredienste of ander byeenkomste hou nie.
* Lidmate neem verantwoordelikheid vir hul eie geestelike lewe deur gereelde Bybellees, gebed en persoonlike toewyding.
* Lidmate bedien mekaar en bemoedig mekaar deur sover moontlik kontak te hou dmv telefoonoproepe, whats-app- en sms-boodskappe, e-posse, ens.
* Lidmate bid vir mekaar – om in die geloof te volhard en nie moedeloos te word nie. Ons vra spesifiek dat daar vir ons senior burgers en mense wat alleen woon gebid moet word. Weet ook dat ds Smuts en Mariaan, asook die kerkraadslede, gereeld vir die gemeente bid.
* Ds Smuts stuur elke dag aan lidmate per sms ‘n Bybelteks of -gedagte sodat ons een in gees saam kan nadink en bid oor ons geestelike lewe en verhouding met die Here.
* Ds Smuts stel ook gereeld boodskappe beskikbaar wat op Youtube, Facebook en die gemeente se webtuiste beskikbaar is. Die skakel na YouTube boodskappe word ook per whatsapp na kerkraadslede, dienswerkers en talle lidmate gestuur, met die versoek dat lidmate mekaar bedien deur die boodskap/skakel aan te stuur.
* Ds Smuts stuur ook geestelik boodskappe na Tuishuis en Gottlandhuis. Die bestuurders van hierdie tehuise vir senior burgers sorg dat die boodskappe aan die inwoners voorgelees word.
* Geestelike behoeftes: Lidmate dra mekaar deur ondersteuning en gebede. Maar dit mag ook wees dat ‘n lidmaat die behoefte aan ‘n geestelike gesprek met die dominee het, of net die behoefte dat die dominee vir hom/haat moet bid. Ds Smuts nooi lidmate om hom te kontak by 044 279 1679 of 082 921 6854.
* Gesinne met kosnood: Die Liefde Leef Kommissie gaan voort met reëlings om toe te sien dat daar in behoeftige gesinne se kosnood voorsien word. Indien u van kosnood bewus is, kontak asb vir Riaana van Deventer by 084 583 9146.
* Begrafnisse: In geval van dood, mag daar slegs ‘n baie klein getal by ‘n begrafnis teenwoordig wees en is daar ook ander reëlings ter sprake. Kontak ds Smuts in hierdie verband.
* Kategese: Die geestelike onderrig van ons kinders bly primêr die taak van ouers. Dit is immers die ouers wat hullesef deur die doopbelofte daartoe verbind het om hulle kinders deur die Woord in die weë van die Here te onderrig. Ouers word aangemoedig om dit in hierdie tyd met nuwe oorgawe te doen.
* Dankoffers: Lidmate kan hul dankoffers elektronies (EFT) oorbetaal na NG Kerk Oudtshoorn, Nedbank Oudtshoorn Takkode 175205, Tjek rek no 1752044630. Indien lidmate nie elektronies oorbetaling kan doen nie, word julle versoek om dankoffers te bêre en na opheffing van die “lockdown” by die kerkkantoor in te betaal of na ‘n erediens te bring.