Kip se les

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (Spreuke 4:23).

In Michael Ondaatje se boek The English patient, wat onlangs as die beste boek van die vorige eeu vereer is, ontmoet die leser ʼn klompie onvergeetlike karakters.

Een van hierdie karakters dra die ongewone naam Kip. Kip is ʼn slim en hoogs talentvolle Sikh wat tydens die Tweede Wêreldoorlog daarin gespesialiseer het om bomme onskadelik te stel.

Tydens ʼn gesprek met sy vriendin Hana, deel hy met haar een van die belangrikste lesse wat hy tydens sy gevaarlike werk moes leer. Dít het hy geleer toe hulle span nuwe maniere moes vind om die bomme te ontlont, grootliks omdat die vyand die meganismes van die ploftoestelle gedurig verander het. Vroeër het hulle die sekeringsdrade van die ploftoestel ontbloot, uitgehaal en afgeknip, maar dit het nie meer gewerk nie.

Wat hulle tóé moes leer, was om die toestel onaangeraak binne die bom te laat en dit met behulp van ʼn spesiale vloeistof te vries. Die bevrydende reël of les was: “If you are in a room with a problem, don’t talk to it. The problem would not be solved by embracing it. Which means: ignore the fuse. Don’t touch the fuse at all.”

Hoor jy dit? Kip se bevrydende les of ontdekking was dat ons nie so op ons probleme sal fokus, so aanhoudend daaroor of selfs daarmee sal praat, dat dit ons aandag weglei van ander, dikwels duideliker oplossings of uitkomste nie.

Want die probleem kan, by wyse van spreke, in jou gesig ontplof en jou lewe groot skade berokken.

Here, help ons om vandag nie vas te val in ons probleme nie, maar deur u krag bo dit uit te leef en ander uitkomste te vind. Amen.

Carel Anthonissen

Boodskap vir Vandag van Bybel-Media