Is jy toekoms-georiënteerd of hede-georiënteerd?

Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie (Spr 27:1).

Daar is ’n reuseverskil tussen toekoms-georiënteerde mense en hede-georiënteerde mense.

Mense wat vir môre leef, stel die betekenis van die lewe gedurig daarheen uit. Vreugde en geluk wag altyd om die draai vir hulle, nooit hier nie. Hulle is nie gerat vir vandag nie. Hulle is veels te besig om teen 180 km/h vir die toekoms te beplan. Hulle leef so skrikwekkend vinnig om vandag agter die rug te kry sodat die toekoms iewers vorentoe kan aanbreek.

Hulle probeer so hard om vir die toekoms voorsiening te maak dat hulle nie weet wat vandag met hulle vriende en familie gebeur nie. Hulle onsekerhede oor môre steel hulle blydskap oor vandag. Toekomsgedrewe mense sien die lewe as ’n lang, uitgestrekte pad. Daar is nie ’n dringendheid in hulle om vandag te leef asof elke sekonde tel nie, want “môre is nog ’n dag”.

Mense wat vir vandag leef, is soos kortafstandatlete. Hulle hardloop die lewe voluit. Hulle suig die murg uit elke vandag omdat elke nuwe dag onherhaalbaar, nuut en vars is. Dit is nie maar net nog ’n doodgewone dag nie. Hulle weet dat elke vandag presies die regte dag is om ’n verskil te ervaar en ’n verskil te maak. Vandag-mense beskou vandag as spesiaal omdat God dit gemaak het.

Vandag-mense het korttermyn- eerder as langtermyn-doelwitte. Hulle beleef elke dag as ’n volledige stukkie lewe, nie as ’n punt onderweg na ’n onbepaalde môre nie. Hulle bereik hulle doelwitte gouer en ook doeltreffender, want hulle jaag nie die hele tyd agter onbereikbare ideale aan nie. Hulle sien die horison hier naby aan hulle en hulle leef rustig, maar baie gefokus, op pad daarheen. Hulle leef nie gejaagd nie, maar teen God se een-dag-op-’n-slag-spoed. Hulle ervaar ’n dringendheid in hulle omdat vandag so baie saak maak.

Vandag-mense wag nie vir die dag van môre om God se hand aan die werk te sien nie. Hulle rig hulle oë op God se wonderwerke en sy versorging hier en nou.

Here, help my om met die regte balans te leef sodat ek nie van vandag sal steel omdat ek te veel op môre fokus nie. Ek wil elke dag leef in die hede as ’n geskenk uit u hand. Amen.

(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)