Hoogs kompeterend

As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan (1 Korintiërs 12:26-27).

“Hoogs kompeterend.” Dis hoe ’n spreker onlangs die kerk in ’n bepaalde streek in Suid-Afrika beskryf het. Wat ook al die redes vir hierdie mededinging is, een feit staan soos ’n paal bo water: Daar is talle kerklike denominasies, onafhanklike kerke en geloofsgemeenskappe wat elk op hulle eie manier die waarheid najaag. En soms sluit hulle mense uit in hulle soektog na die waarheid. Wie se doop is reg? Watter vorm van aanbidding is aanvaarbaar? Moet ons in vreemde tale kan praat? Dit is maar enkele van die vrae wat kerke in verskillende kampe injaag.

Boonop is dit skynbaar mode om kwaad te wees vir die kerk. Toe iemand onlangs vir my sê hy is kwaad vir die kerk, vra ek hom hoe lank hy nou al kwaad is. Toe sê hy dat hy jare lank al nie meer kerk toe gaan nie. “Dan moet jy met ’n terapeut gaan praat,” antwoord ek hom, “want as jy al so lank met woede in jou hart teenoor die kerk rondloop, kort jy anger management-vaardighede. Dan het jy toksies geraak.”

Ons durf nie die Here se kerk afskryf net omdat sekere kerkleiers droogmaak nie. Dit is hartseer dat daar soveel wantroue teenoor mekaar in die kerk van die Here bestaan. Mense word veels te maklik beïnvloed om teen enigiets te wees, van nuwe Bybelvertalings tot skrywers wie se boeke hulle nog nie eens gelees het nie.

Ek wonder partykeer of 1 Korintiërs 13 nog in baie van ons se Bybels staan, dié gedeelte wat sê ons moet die beste van mekaar glo en verwag. Of Matteus 18 wat sê as ons ’n probleem met ’n medegelowige het, moet ons dit op ’n deernisvolle manier eenkant gaan uitpraat. Hoe jammer dat vele Christene wat “opstaan” vir die gesag van die Bybel nie daardie einste Bybel toepas wanneer hulle met medegelowiges omgaan nie. Hoe jammer dat ons die Heilige Gees nie genoeg vertrou om ons in die waarheid te lei en Christus se kerk hier op aarde in stand te hou nie. As ons Hom sou volg, sou ons kerke baie meer soos die Here se familie hier op aarde gelyk het.

Here, U is die hoof van u kerk. Help my om ander kerke en gelowiges altyd te sien as lede van u liggaam, waarvan ek ook deel is. Leer ons om met mekaar te kan verskil op ’n manier wat U eer eerder as om mekaar as mededingers te sien. Want as een lid ly, ly die hele liggaam. Amen.

(Prof Stephan Joubert – Boodskap vir Vandag)