Carpe Diem, selfs die chaos daarvan

In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig (Gen 14:1-3).

In rugby is daar ’n bekende “use it or lose it”-reël. Dit geld ook vir ons intelligensie. So sê die neurowetenskaplikes. As jy ophou om sekere breinfunksies te benut, kan jy later sommige van daardie vermoëns verloor. Geestelike intelligensie werk ook so – gebruik dit of verloor dit.

Oefen daarom elke dag om een dag op ’n slag vir God te leef. Begin vandag. Dit gaan die res van die dag so anders maak. En môre ook, as God wil dat jy nog in daardie tydsone leef. Maar hier en nou moet jy die regte keuses maak sodat daar vir die mense naby aan jou ’n pad gebou word waarop hulle ook kan loop, ’n pad wat hulle duidelik kan sien. Los jou voetspore agter dié van die Rots, Jesus. Dan is daar vir ander ’n goeie lewenspad gebaan. Jy is dit aan hulle verskuldig.

Leef elke dag in die lig van God se prioriteite. Beplan sodat jy nie mislukking ’n metgesel op jou pad maak nie. Moenie onverskillig leef nie. Maar moet ook nie bang wees vir onsekerheid en chaos nie. Anders as al die mense wat toekomsgeoriënteerd leef, vir wie chaos so bedreigend is omdat dit die ordelikheid en roetine van die lewe omverwerp, moet jy juis floreer in chaos.

Hoekom? Want jy weet Jesus het gekom om Lig in donker te bring. Die Hebreeuse woord wat ons met “woes” vertaal, kan ook met “chaos” vertaal word. Chaos is God se gunsteling-werkterrein, nie veilige hawens nie. Daarom bedreig dit jou nie wanneer jy chaos rondom jou sien nie. Dis jou werkplek! Nou toe, gaan koop die tyd vandag behoorlik uit, uur vir uur!

Skepper-God, help my om in chaos en onsekerheid aan U vas te hou en dit as ’n geleentheid te sien waarin U my kan gebruik om lig in die donker te bring. Amen.

(Johan Cilliers – Boodskap vir vandag)